NEEEF: ‘Daar is twee kante van hierdie muntstuk' - Kosmos Radio 94.1 FM

NEEEF: ‘Daar is twee kante van hierdie muntstuk'

JM Kretschmer

'n 'Finale konsepdokument' van die Namibiese Nasionale Billike Ekonomiese Bemagtigingsraamwerk, oftewel NEEEF, is deur die Kabinet bekend gemaak. Dit is goedgekeur deur die Regshervorming Ontwikkeling Kommissie en die regering se wetopstellers. Die volgende stap is nou die parlement waar dit gedebatteer sal word. NEEEF is lankal reeds 'n omstrede kwessie en sekere kundiges is in opstand oor die onsekerheid wat die raamwerk bring vir industrieë in die land, wat gevolglik broodnodige belegging inperk.
Die Ekonomiese Beleid Navorsing Vereniging, oftewel EPRA, het 'n ontleding uitgereik van die 'finale konsepdokument' deur die grondwetlikheid daarvan te betwis en die dokument te beskryf as 'vaag en drakonies'. Volgens die Ekonomiese Beleid Navorsing Vereniging sal die dokument of Wetsontwerp indien die bekragtig word, Namibiërs doelbewus op grond van ras verdeel en begunstigdes sluit enige en alle Namibiërs in wat voorheen benadeel is, ongeag hulle verlede, huidige of toekomstige ekonomiese status.
Die vereniging sê voorts dit sluit enige en alle wit Namibiese burgers uit, insluitend vroue en inwoners. Eben de Klerk van die vereniging sê alhoewel daar 'n ooreenkoms was om die 25 persent eienaarskap oordrag te verwyder, wat wel gedoen is, is die 25 persent in sy woord word nou enigiets.
Volgens die dokument sal 'n minister en 'n kommissaris aangestel word en die mag om besluite te neem en uitsprake te maak sal totaal berus by die minister en kommissaris wat nog aangestel moet word.
Die huidige vorm van die raamwerk is van toepassing op alle entiteite, beroepskategorieë en produktiewe bates. Dit sal onder meer plase en huur-eiendomme insluit wat in beslote korporasies geregistreer is. Maar die EPRA sê nie een van die bogenoemde word gedefinieer nie. Daar is ook geen sonsondergangsklousule nie en gevolglik kan die wet onbepaald toegepas word. Daar is geen vasgestelde kriteria nie - nie vir die evaluasie van die armoedevlak van die begunstigde nie en ook nie watter kriteria toepaslik is nie. Dit kan op enige stadium gewysig word, en na willekeur, sektorale handveste kan toegepas word op enige stadium deur die minister. Kontrakte en tenders sal gegrond wees op nakoming.
Daar is geen verpligting dat die minister betekenisvolle konsultasie moet voer vir enige kriteria of sektorale transformasie handveste nie.
EPRA sê bowendien daar is geen empiriese bewyse wat voorgelê is ter ondersteuning van die "veronderstelde positiewe effekte vir armoede en ongelykheid, geleentheid of bemagtiging" nie.
Ongelykheid in Namibië is steeds 'n baie groot uitdaging. Volgens onlangse internasionale mediaberigte woon 5 persent van die land se bevolking in Katutura, waarvan die meerderheid in informele nedersettings woon. Volgens die Wêreldbank was die Gini Indeks vir Namibië in 2018 op 55 persent, 'n daling teenoor die 71,3 persent in 1993/94. Maar ongelykheid is 'n gekompliseerde element omdat dit nie gelykmatig versprei word nie. Die Nasionale Beplanningskommissie het in sy Maart 2018 'Toestand van die Namibiese Ekonomie' verslag vermeld dat "ongelykheid toegeneem het in sewe van die 13 streke tussen 2003 en 2010 wat daarop dui dat die ekonomiese groei van 4,2 persent tydens die tydperk die bevolking op verskillende wyses bevoordeel het. Ten spyte van goeie vordering deur vroue met betrekking tot onderwys en ekonomiese deelname, toon data van die Namibiese Arbeidsmag Opname 2014 dat daar 'n waarneembare geslagsloon gaping bestaan, die verskil tussen die salarisse van vroue en mans. Om ongelykheid in die land aan te spreek, is dit noodsaaklik dat beleid ingrypings saamgestel moet word wat daarop gerig is om die loonverskille aan te spreek. Die status quo is steeds meestal onveranderd en vroue maak die grootste deel uit van die informele sektor wat op die oomblik meer as 30 persent van die Namibiese ekonomie beslaan.
Daar is min Namibiërs wat omgee oor die land wat sal stry dat ongelykheid eenvoudig die status quo is en alomteenwoordig is orals in die wêreld. Dit moet aangespreek word en dis boonop 'n konsep waaroor daar ooreenstemming bereik is.
Volgens die EPRA is ongelykheid die pyn wat veroorsaak is deur die wond en nie die wond self nie. Die vereniging voer aan dat Oshiwambo-sprekende mense meer ongelyk is as enige ander taalgroep, deur te sê dit is 'n bewys dat "baie Oshiwambo-sprekende mense na die middelklas beweeg het na onafhanklikheid alhoewel minder lede van ander taalgroepe soortgelyke sosio-ekonomiese statusse bereik het".
Kommer heers steeds dat daar geen klousule bestaan wat die blouboordjie-werker die opsie bied om te vorder nie.
Die dokument noem "pilare" van bemagtiging. Die eerste is die eienaarskap pilaar, wat ongetwyfeld 'n opsie is vir diegene wat oor hulpbronne beskik om aandele aan te koop. Die tweede verseker dat bestuurstrukture meer verteenwoordigend is van die Namibiese demografie. Dit is ook afhanklik van onderwys en formele opleiding.
Menslike hulpbronne en vaardigheid ontwikkeling, as die derde pilaar, is totaal van die werkgewer afhanklik. Die vierde pilaar sal maatskappye evalueer ingevolge die hoeveelheid ondersteuning wat hulle gegee het aan entrepeneur ontwikkeling, gratis of teen 'n afslag, asook die verskaffing van kundige raad en mentorskap. Die verkrygingspilaar sal evalueer hoeveel ondersteuning maatskappye verskaf het aan begunstigdes van bemagtiging terwyl die sesde pilaar, korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid presies dít is. Sewende is hoe ver maatskappye gevorder het met die ondersteuning van begunstigdes om waarde toe te voeg, werk te skep en vaardighede oor te dra. Die laaste pilaar is toegang tot finansiering deur die bemagtiging van begunstigdes.
Die reaksie wat die konsep-wetgewing ontketen het word toegeskryf aan die vae en ongedefineerde aard daarvan. Dit is nog ver van 'n amptelike beleid en dis op die oomblik meer van 'n idee en kan op verskillende wyses geinterpreteer word.
EPRA sê die raamwerk hou 'n negatiewe risiko in vir veral die mees benadeelde en kwesbare Namibiërs omdat dit "ruimte bied vir substantiewe misbruik van mag, korrupsie, nepotisme en wanbestuur".
Die vereniging voer ook aan dat dit beide buitelandse en plaaslike belegging afraai en spoor kapitale uitvloei aan. Wat ook kommer wek is die internasionale ooreenkoms verpligtinge wat Namibië onderteken het.
"Dit kan slegs sub-optimale uitkomste bied vir die meerderheid terwyl dit die sakke vul van 'n polities-gekoppelde minderheid" sê die EPRA.
Die raamwerk kan in sy huidige vorm volgens die vereniging nie die sleuteloorsake van die sosio-ekonomiese marginalisering aanspreek van diegene wat die kwesbaarste is en geaffekteer word deur armoede en werkloosheid nie.
Job Muniaro, sekretaris-generaal van die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW), deel ook sommige van die bekommernisse, veral met betrekking tot werksverliese.
Volgens Muniaro is die plan nie haalbaar indien die implikasie van NEEEF die sluiting van maatskappye inhou.
Indien dit oor eienaarskap gaan staar ons volgens Muniaro 'n uitdaging in die gesig. Hy vra of die regering die waarborge sal bied wat aanvanklik ingedien is deur die voormalige eienaar nadat NEEEF ingetree het. Sal die regering maatskappye se skuld betaal?
Hy beskryf NEEEF as 'n goeie idee en vra of dieselfde werkstandaard, mediese pensioen en toelae-voordele steeds toegepas sal word.
"Ons soek NEEEF in terme van swart bemagtiging maar daarmee saam kom verantwoordelikheid en aanspreeklikheid. Sal die regering die waarborge aan maatskappye verskaf namens NEEEF? Almal word nou hulle eie werkgewers maar 'n onmiskenbare deel daarvan is verantwoordelikheid, nie net voordele nie. Ons kan NEEEF môre implementeer maar die regering moet die reddingsboei verskaf."
Muniaro sê sy primêre bekommernis is die huidige ekonomiese toestand. Hy sê ons moet op die oomblik regverdig en eerlik wees in ons doelwitte; “... ons ondersteun NEEEF maar in hierdie Namibië is dit 'n risiko wat ons nie moet neem nie. Voldoende konsultasie is noodsaaklik want in hierdie ekonomie sal werkers onder my leierskap die meeste sukkel”.
Die Haas Instituut aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley het 'n beleid saamgestel vir die vermindering van ongelykheid. Een van die beginsels is om die minimumloon te verhoog en daarmee saam inkomstebelasting krediet verhoog, veral op grond van die laer-inkomste segment gebaseer op die aantal kinders en ander kriteria. Die uitbreiding van toegang tot laekoste, billike finansiële dienste en aftreeplanne maak dit moontlik vir lae-inkomste families om welvaart te bou. In die lig hiervan is huis-eienaarskap 'n belangrike element. Belegging in onderwys en die beëindiging van segregasie is ook as belangrik gelys. Volgens die instituut bestaan daar 'n sterk korrelasie tussen hoër vlakke van rasse residensiële segregasie binne die metropolitaanse streek met noemenswaardige laer vlakke van intergenerasie opwaartse mobiliteit vir alle inwoners van die gebied. Segregasie gegrond op inkomste, veral die isolasie van lae-inkomste huishoudings stem ook ooreen met baie laer vlakke van opwaartse mobiliteit. Die eliminasie van residensiële segregasie gegrond op inkomste en ras kan 'n hupstoot gee vir ekonomiese mobiliteit vir almal.
NEEEF sal die koste van besigheid verhoog indien dit geimplimenteer word. Volgens Ian Collard, die Voorsitter van die NMI Groep van Maatskappye, verlaag dit mededingendheid, iets wat ons nie kan bekostig nie. Hy voeg by dat mededingendheid in industrieë in die land reeds uitdagings ondervind met onder meer die hoë water- en elektrisiteitstariewe en die implementering van NEEEF in die huidige formaat sal die gaping tussen die "Ek sal" en "Ek wens" verklein.
EPRA het ook sy kommer uitgespreek oor die impak van NEEEF op die opbou van kapitaal met 'n toenemende beleggers-onvriendelike omgewing. Dis op 'n algehele laagtepunt as 'n persentasie van BBP volgens EPRA. Die opbou van kapitaal is noodsaaklik vir ekonomieë en verhoog belegging omdat dit per kapita inkomste verhoog wat aankoopkrag bevorder omdat dit aanvraag skep. Lae produktiwiteit gee aanleiding tot lae inkomste, lae aankoopkrag en lae aanvraag. Dit verminder nasionale inkomste en produktiwiteit en die koers van die opbou van kapitaal bly laag. Daar is 'n verbintenis tussen ongelykheid en lae groei wat deursyfer na lae vlakke van onderwys en mensekapitaal samestelling.
In 'n dokument oor die effekte van grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika, het Professor Ilse Botha en Dr Roelof Botha geskryf: "Die belangrikheid van die opbou van kapitaal vir die welstand van die ekonomie kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit verteenwoordig die fisiese bates wat nodig is om goedere en dienste te produseer en voorbeelde sluit infrastruktuur soos water, paaie en elektrisiteit in en die fabrieke, trekkers, masjinerie en hyskrane in wat produksie en werkskepping in die private sektor moontlik maak. In die afwesigheid van voldoende vlakke van kapitaal, word huidige en toekomstige ekonomiese groei ingekort, wat fiskale stabiliteit bedreig deur sub-optimale belasting-inkomste. Arbeidsgroei is ook beperk en die regering se vermoë om basiese dienste aan 'n groeiende bevolking te verskaf en om infrastruktuur te onderhou, word verlaag."
Sven Thieme het as president van die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid gesê hy het nog nie die nuwe konsep-wetgewing ondersoek nie en hy het ook nie die kommentaar en analise bestudeer wat bekend gemaak is nie. Hy sê egter indien die nuwe NEEEF konsep-wetgewing die arm gemeenskappe bevoordeel en indien die uitkoms beter onderwys, gesondheid en veiligheid is, geniet dit sy ondersteuning. Hy sê hy sal 'n persverklaring uitreik sodra hy tyd kry om die dokument te bestudeer.
Ander belanghebbers, wat anoniem wil bly, het hulle kommer uitgespreek oor die ontbreking van deursigtigheid met wysigings aan die oorspronklike NEEEF konsep-dokument deur by te voeg dat industrieë en belggers verrassings vrees. Die deursigtigheid was volgens hulle nie na wense nie.
Een sakepersoonlikheid sê “die regering hoort nie in my waardeketting nie want indien dit wel daar is, verloor ek alle doeltreffendheid. Die regering is nie 'n sake-bemagtiger nie”.
Die Ombudsman, Advokaat John Walters, wat 'n lid is van die Regshervorming Ontwikkeling Kommissie, vra vir kalmte. "Daar was nog nooit 'n beter tyd vir die publiek en die burgerlike gemeenskap om betrokke te raak nie. Die raamwerk sal na die parlement gestuur word waar dit bespreek sal word. Walters vra dat individue in gesprek tree met hulle plaaslike politikus. “Maak seker dat hulle jou insette ontvang, woon debatte by en vervul 'n aktiewe rol in die Wetsontwerp.”
Walters het sy kommer uitgespreek dat die blouboordjie-werker en die res van die publiek glad nie goed ingelig is oor NEEEF nie. Die nuwe parlement sal die wetsontwerp debatteer en daarna sal dit aan 'n grondwetlike toets onderwerp word. "Verskaf die nodige hulpmiddels vir argumente aan jou plaaslike verteenwoordiger en spreek jou kommer uit teenoor die betrokke belanghebbers," sê Walters.
Volgens Walters is die bemagtiging van werkers noodsaaklik en die praktiese implikasies van die huidige dokument, moet op alle vlakke van die gemeenskape gedebatteer word.
Hy het egter sy kommer uitgespreek oor die stilswye van die blouboordjie-werker, die werklike begunstigde.
"Waar is hulle stemme? Indien hulle verstaan het waaroor dit gaan, sal daar meer druk wees om dit so gou moontlik toe te pas? Hoekom is hulle so stil? Hulle is nie ingelig nie," sê hy.
Muniaro sê: “Daar is twee kante van die muntstuk. Aan die een kant is die landsvlag, wat bemagtiging verteenwoordig maar nie werkskepping nie. Aan die ander kant is geld, wat goeie werk verteenwoordig maar nie bemagtiging nie. Watter kant wil jy kies?”