Hoenderinvoere in Namibië raak ’n tameletjie ná die Namib-pluimveebedrywe
(NPI) aangekondig het hy beskik sedert September vanjaar oor opgehoopte
voorraad van meer as 1 900 ton.
Dít terwyl invoere onverpoos voortgaan.
Boonop het plaaslike, kleiner hoenderprodusente ook stem dikgemaak en
gesê hulle het geen mark vir hul produkte nie, want kopers verkies ingevoerde
hoender.
Om sake te vererger, was daar ’n skerp daling in bestellings vir die
NPI se dag-oud-kuiken-projek omdat die kookvleismark versadig is.
Dié projek is van stapel gestuur om plaaslike produksie te bevorder.
Tydens ’n onlangse openbare vergadering om die huidige beperkings op
hoenderinvoere in Namibië onder oë te neem, het Petrus Shoopala, die Vereniging
van Vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE) se aanstaande voorsitter, sy mes vir
die NPI ingehad.
Hy het die maatskappy van oligopolie beskuldig en gesê hy berokken die
verbruiker skade met uitermate hoë pekelwatervlakke.
“Daar is min of geen voordeel vir invoerders om kwarthoenders te koop
nie, omdat die NPI die mark deur vasgestelde prysstrukture wil oorheers. Die plaaslike produsent se sakestrategie is om
die kleinhandelmark te beheer.”
Shoopala het die NPI ook van ’n gebrek aan lojaliteit teenoor sy
verbruikers beskuldig weens “oormatige pekelwatervlakke”.
Hy het bygevoeg in Suid-Afrika word vlakke van 15% toegelaat, terwyl
dit in Namibië op 25% staan.
Kenners meen as pekelwater ’n verbruikerskwessie was, moet alle
geblikte vleisprodukte, spek en gerookte ham (gammon), ook dit wat ingevoer word, by die debat ingesluit word.
Bande met Brasilië
Shoopala het verbruikersbeskerming in dié verband bly beklemtoon.
Die Johns Hopkins Bloomberg Skool vir Openbare Gesondheid het
breedvoerige navorsing oor die samestelling van slaghoendervoer gedoen, wat
meestal – veral oorsee – antibiotika en produkte bevat wat van vleis afkomstig
is.
In sommige gevalle sluit dit selfs in karkasse, diere wat deur
voertuie doodgery is en troeteldiere wat uitgesit is.
Dié elemente word opgemaal en by voer gevoeg.
Shoopala het daarop aangedring die gehalte van Brasilië, as
netto-uitvoerder van hoenderborsies na die Europese Unie-lande (EU), se pluimveeproduksie
is op Europese standaard.
Brasilië se vleisbedryf het al reuse-uitdagings ervaar, wat volgens
die jongste internasionale berigte die grootskaalse omkopery van vleisinspekteurs
insluit.
In die EU en die VSA is Brasiliese produkte al verskeie kere verbied.
Die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging het ook onlangs hul mes vir Brasilië in
gehad wat invoere na Suid-Afrika betref.
Die grootste beskuldiging teen AMIE is dat hy nie tot volhoubare werkskepping
bydra nie, en plaaslike produksiekapasiteit en die bedryf se ontwikkeling voortdurend
ondermyn.
Toe Shoopala vir ’n lys van AMIE se 22 lede gevra is, het hy gesê lede
is huiwerig om dit te verskaf, omdat dit “in koerantpublikasies gebruik kan word
en hul sake-akwiteite kan benadeel”.
Hoeveel?
Hy wou ook nie vrae oor kwarthoenders se invoerprys beantwoord nie.
Sarel Oberholzer, ’n Suid-Afrikaanse burger wat as invoerder in Namibië
werk, het die Vleisraad onlangs in die Windhoekse hoërhof tot ’n hoër kwota
uitgedaag.
In hofdokumente het hy aangevoer hy is gedwing om hoender van ander
invoerders in Namibië “teen ’n premie van N$10 per
kilogram” te koop.
In sy opmerkings oor verbruikersbeskerming en -regte het Shoopala na
“goedkoper” invoere verwys.
Fanie du Plessis, AMIE se uittredende voorsitter, het aan Kosmos 94.1
Nuus gesê daar is ’n tekort aan mededinging, hoewel hy nie invoerpryse verstrek
het nie.
“Volgens die huidige stand van sake is daar ’n tekort aan mededinging
onder plaaslike produsente, wat ’n gebrek aan prysmededinging tot gevolg het. Om sake te vererger, rig die feit dat die
oorheersende plaaslike produsent nie geskikte prysstrukture het nie die
verbruiker skade aan.
“Om aansoek vir kwota-toewysing te kan doen, moet invoerders die plaaslike
mark ondersteun. Die beprysing van die produkte deur die plaaslike produsent is
egter duur en daarom syfer die effek van dié skema na die verbruiker deur.”
Cirrus Capital het uitgebreide navorsing oor die belangrikheid van
Namibië se slaghoenderbedryf en ruimte vir groei gedoen.
Volgens Cirrus se ekonoom,Robert
McGregor, kan die relatiewe beprysing van plaaslike en Suid-Afrikaanse
produksie nie op kleinhandelpryse vasgestel word nie.
“Dis meer akkuraat om fabriekspryse te gebruik om die produsente se
doeltreffendheid te vergelyk. Wat ons gevind het, is dat produksie in Namibië
baie doeltreffend is en amper op dieselfde standaard is as die Suid-Afrikaanse
produsente met wie ons hulle kan vergelyk. Daar was sprake van baie goedkoop
hoender wat in Namibië aangeland het – veel goedkoper as die pryse wat
Namibiese en Suid-Afrikaanse produsente aanbied. Omdat hoenderpryse in Namibië
(en selfs Suid-Afrika) hoër is as dié pryse, laat dit ruimte in die verskaffingsketting
vir partye om die prysverskil op te maak deur die prys heelwat op te stoot – wat
natuurlik nie tot voordeel van die verbruiker is nie. Wat bepaal moet word, is
of die produkte wat teen sulke lae pryse ingebring word, gestort (dumped) is of nie – dís die kern van die
saak,” het McGregor gesê.
Dít word weerspieël in die feit dat hoender in plaaslike winkels nie
groot prysverskille toon nie, en die verbruiker se opsie is, op die meeste, ’n
paar dollar goedkoper.
Die voerkwessie
Du Plessis het Feedmaster geteiken toe hy oor die miljoene dollars
gevra is wat die land weens hoenderinvoere verlaat.
“Sluit asseblief net ook statistieke vir Namib Mills en Feedmaster se
graan- en voerinvoere by jou artikel in. ’n Geskatte 80% of meer van Feedmaster
se roumateriale soos mielies wat in hoendervoer gebruik word, is ingevoer, en
die koste van voer is 70% van die koste van pluimveeboerdery. Bevestig die
feite asseblief met die Akkerbouraad,” het hy gesê.
Pieter van Niekerk, Namib Mills se handelsbestuurder, het gesê net vir
die vervaardiging van hoendervoer alleen is 120 Namibiërs teen vergoeding in
diens geneem. Volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) is daar 4,6 afhanklikes
vir elke werker wat ’n loon in Namibië verdien, wat beteken die land se
hoendervoerbedryf ondersteun 552 Namibiërs.
“Namib Mills skaf eers al die plaaslik beskikbare grane aan voor hy
invoer. Feedmaster is ook een van die
min maatskappye wat ’n rou produk invoer, waarde toevoeg en dit dan op die
plaaslike mark verkoop. Voerproduksie in Namibië is nie ’n beskermde bedryf nie
en Feedmaster is besonder mededingend in die ope mark,” sê Van Niekerk.
Volgens McGregor is ’n vermindering van invoere se waarde ’n
belangrike oorweging.
“Hoender het as produk ’n hoër waarde as voer, so om meer voer en
minder hoender in te voer, is steeds netto voordelig, wat dus minder van ’n
vertraging in groei teweegbring. Afgesien hiervan is Namibië se buitelandse
valuta van kardinale belang in die handhawing van hoe ons met die rand koppel.
Om die waarde van invoere te verminder, speel dus ook ’n rol in die handhawing
van internasionale reserwes, of om dit ten minste minder te laat afneem.
Sodoende word die koppeling beskerm.”
Bydraes gelewer
AMIE het melding gemaak van hul bydraes en sê hy het N$150 miljoen in
infrastruktuur (koel- en stoorgeriewe) belê en N$150 miljoen in die bruto
binnelandse produk (GDP) in die vorm van belasting, padgebruiktariewe
ensovoorts. Hy sê ook hulle het 204 000 werksgeleenthede geskep en bestee N$250
miljoen aan salarisse en lone.
Shoopala kon nie enige lig werp op die besonderhede van die bydraes
tot infrastruktuur nie, en het bloot gesê “dié inligting is deur die
individuele lede van die vereniging aan my verskaf”.
Ekonome stem saam dat invoere minder tot die GDP en werkskepping bydra
as plaaslike produksie. Cirrus het in sy navorsing boonop bevind vir elke
dollar wat in die plaaslike slaghoenderbedryf belê word, is daar ’n vermenigvuldigende
effek van net meer as N$4 wat terug in die plaaslike ekonomie geploeg word.
Eenvoudig gestel, sê hulle, is dit beter om N$100 miljoen in plaaslike
produksie in te stoot as om N$100 miljoen in invoere te belê – selfs al
voorsien invoere verbruikers van ’n keuse, soos Shoopala aan Kosmos 94.1 Nuus
gesê het.
McGregor meen “as ons geen plaaslike bedryf gehad het nie en al ons
pluimvee ingevoer het, glo ek nie hulle sou al die verlore werksgeleenthede in
die plaaslike bedryf gevul het nie. Hulle het reeds hul invoer- en
verspreidingsnetwerke, so dit sou eenvoudig ’n kwessie van meer
administrasiewerk (aan die invoere-kant) gewees het, en moontlik ’n paar nuwe drywers en trokke vir die
bykomende volumes; ek twyfel of dit op dieselfde skaal van belegging en
werkverskaffing sal wees as wanneer daar ’n plaaslike bedryf is.”
Geen voordeel uit
kwotas
Volgens Paulo Shipoke, ’n hoenderprodusent naby Ohangwena, het hy geen
voordeel uit die kwotastelsel gesien, wat poog om invoere te beperk en die
plaaslike bedryf te laat groei nie.
“Ons het alles aan kleinhandelaars voorgelê, maar ons moet nog ’n
bestelling kry.”
Shipoke se plaas kan tot 1 000 hoenders slag, maar hy sê hy is
beperk in wat hy na die mark toe kan vat. As hy meer bestellings kry, kan hy sy
kapasiteit verhoog tot tussen 3 000 and 5 000 hoenders ’n dag, maar invoere
belemmer sy besigheid se groei.
Hy’t Japan as voorbeeld genoem, wat ’n 192%-tarief op Brasiliese invoere
hef, en Suid-Korea, wat 90% hef. “Dit is
moeilik om teen die EU, die VSA en Brasilië mee te ding omdat hul bedrywe
regeringsteun ontvang. Ek kon my skootrekenaar vat en van Brasilië af begin
invoer met my seun in ’n hoekkantoor, en dan kon ek my N$14 miljoen in my sak
steek – mens het jou eie idees.”
Hy het bygevoeg vir die sektor om te groei, het dit ondersteuning en
beskerming nodig, “anders sal ons vou nog voor ons begin het”.
Oor die voordeel vir die verbruiker het Shipoke gesê: “Jy sien nie dat
invoerpryse aan die verbruiker oorgedra word nie. Waarheen gaan die voordeel?
Na die invoerders se beursies, natuurlik. Ek dink hul winsmarge is seker tussen
40% en 50%.”
Shipoke het 33 werksgeleenthede geskep en lewer 8 ton tamaties uit
kweekhuise wat op hoendermis gevoer word.
Werk is alles
Produsente oraloor die land het tydens die openbare vergadering
dieselfde sentiment gedeel – dat die die hoeveelheid invoere te veel is vir
hulle om volhoubaar te bly bestaan.
Volgens Van Niekerk was daar tussen Januarie en Desember verlede jaar 115
klein en medium ondernemings (SME’s) wat 473 662 kuikens deur die dag-oud-program
gekoop het. Dit het 527 SME-werksgeleenthede geskep. Volgens die invoerdata vir
2018 sou 10 504 werksgeleenthede in Namibië geskep kan word as alle
invoere met plaaslike produksie vervang word.
Milton Shaanika-Louw van die Namibiese Vebruikersbeskermingsgroep sê
werk is belangriker as goedkoop hoender. Hy sê as hy vir al sy familielede
hoender moet koop, insluitende die werkloses, maak dit nie saak wat die hoender
kos nie – hy moet dit steeds vir almal koop, want hulle kan dit nie self koop
nie.