Nuus - Jongste Nuus - Mubarak kritiek
Die gewese Egiptiese president, Hosni Mubarak is volgens berigte in 'n kritieke toestand nadat hy 'n beroerte gehad het. Die Egiptiese staatsmedia berig dat Mubarak gisteraand van sy tronksel na 'n militêre hospitaal in Kaïro verskuif is. Hulle het in 'n stadium berig dat Mubarak klinies dood is, maar daar is later berig dat hy in 'n koma is. Hy word blykbaar met asemhalingsmasjiene aan die lewe gehou. Die 84-jarige Mubarak is vroeër die maand tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy rol in die bloedvergieting in Egipte vroeg verlede jaar, waartydens meer as 800 mense dood is, en wat uiteindelik tot Mubarak se ontseteling gelei het. Daar was al voorheen valse gerugte dat Mubarak oorlede is. 'n Klein groepie van sy ondersteuners het intussen by die hekke van die militêre hospitaal begin saamdrom.




