skakel-081966
 
top20btn

Die hoof van Eskom se pensioen- en voorsorgfonds, Sibusiso Luthuli, het aan die parlementêre komitee op Openbare Ondernemings ‘n uiteensetting gegee van die pensioenuitbeling van dertig miljoen Rand wat die gewese hoof van die kragvoorsiener, Brian Molefe, vermoedelik ontvang het. Daar is beweer dat die reëls gebuig is om hom die reuse bedrag te besorg. Luthuli verduidelik dat Molefe se jaarlikse salaris 5,6 miljoen Rand was:

Die staking by die laekoste-lugredery Mango is afgelas nadat Solidariteit ingestem het tot ‘n verhoging van sewe persent en verbeterde werkstoestande. Woordvoerder Deon Reyneke sê die vakbond is tevrede met die ooreenkoms:

Die Engelse sanger Ed Sheeran sê hy hoop om so gou moontlik gesond te word en sy konserte voort te sit. Hy het optredes in vyf lande afgestel na ‘n fiets-ongeluk waarin hy sy gewrig, elmboog en ‘n rib gebreek het. Die 26-jarige Sheeran sê hy gaan nie soos Dave Grohl van die Foo Fighters maak wat aanhou optree het nadat hy sy been gebreek het tydens ‘n konsert nie.

Nick Kyrgios van Australië en die Tsjeg Tomas Berdych het albei aangekondig dat hulle die res van die seisoen gaan misloop weens beserings. Die omstrede Kyrgios sukkel met ‘n heupbesering wat kort-kort opvlam en Berdych se mediese span het hom aangeraai om sy rugbesering kans te gee om behoorlik te herstel. Andy Murray van Brittanje, Novak Djokovic van Serwië, Stan Wawrinka van Switserland, Milos Raonic van Kanada  en Kei Nishikori van Japan is ander spelers onder die top twintig wat reeds op die kantlyn is weens beserings.

Bangladesj se kaptein, Mashrafe Mortaza, het die Protea-kolwer AB de Villiers geloof vir sy indrukwekkende kolfbeurt in die tweede eendagwedstryd in die Paarl, maar sê die kragmeting kon anders geëindig het as sy boulers hom vroeg uitgekry het. De Villiers het sy hoogste eendag-internasionale telling van 176 aangeteken in Suid-Afrika se beurt van 353 vir drie en die gasheer het met 104 lopies gewen. Mortaza sê De Villiers kan op ‘n goeie dag enige boulaanval aan flarde slaan. Hy hoop sy span kan terugslaan in Sondag se laaste wedstryd in Oos-Londen.

Die nasionale instituut vir Oordaagbare Siektes sê ‘n groot aantal gevalle van malaria is aangemeld in Limpopo en Mpumalanga. ‘n Matige toename word ook in die Kruger-wildtuin en privaat natuurreservate ervaar. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê meer as 400-duisend mense sterf jaarliks aan die siekte. Volgens die instituut is ongewone gevalle van malaria in Pretoria en die Gautengse Oosrand aangemeld by mense wat nie onlangs na malaria-gebiede gereis het nie.

Die ANC se leierskap in KwaZulu-Natal sê mag, geld en apartheid is van die redes vir die politieke moorde in die provinsie. Meer as tagtig politici is sedert 2011 vermoor. Provinsiale voorsitter Sihle Zikalala het in Durban aan die Moerane-kommissie gesê die stryd om mag, tussen-politieke stryd en loopbaangerigtheid voer die geweld aan. Hy is ook ontevrede met lae vervolgings- en skuldigbevindingskoerse. Die kommissie ondersoek politieke moorde in die provinsie.

 Die produksie van eiers het met sewentien persent afgeneem en tot een en ‘n half duisend werkers het hulle werk verloor sedert voëlgriep in Junie in Suid-Afrika uitgebreek het. Die SA Pluimvee-vereniging sê die bedryf het meer as vier miljoen henne verloor. Die Wes-Kaap, wat die tweede grootste verskaffer van lêhenne is, word die swaarste getref deur die virus terwyl die provinsie boonop ‘n verlammende droogte ondervind.

Oudregter Zak Yacoob sê hy kan president Jacob Zuma nie beskryf as ‘n eerlike mens met integriteit nie. Die gewese regter van die Grondwethof het die hoofrede gelewer op die Universiteit Stellenbosch se derde Russel Botman-gedenklesing wat aan die instelling se ontslape gewese rektor opgedra word. Yacoob sê Botman sou ‘n leier gewees het in die stryd teen korrupsie. Hy meen die korrupsie-aanklagte teen Zuma is onbehoorlik teruggetrek voor hy president geword het.

President Jacob Zuma gaan vandag ‘n lewensgrootte standbeeld van die oud-ANC-leier Oliver Tambo onthul op die OR Tambo-lughawe in Gauteng. Dit is deel van die landwye vierings om sy geboortedag byna ‘n eeu gelede te herdenk. Zuma sal ook die lugverkeer- en navigasiedienste-ouditorium op die lughawe na Tambo vernoem, wat van 1967 tot ’91 president van die ANC was.

Suid-Afrika het die eendagreeks teen Bangladesj beklink deur die tweede wedstryd in die Paarl met 104 lopies te wen. Die Proteas het 353 vir ses in hulle vyftig boulbeurte aangeteken danksy ‘n skitterende 176 lopies deur AB de Villiers en 85 deur Hashim Amla. Bangladesj is daarna uitgeboul vir 249 nadat Andile Phehlukwayo vier paaltjies geneem het en Imran Tahir drie. Die laaste wedstryd word Sondag in Oos-Londen gespeel.

Pick n Pay
Paratus
Sample01
Sample02
Sample03
  • Erindi-Ad.jpg
  • spec-savers.jpg
  • m+z-group.jpg
Kosmos aanvaar geen aanspreeklikheid vir die gebruik van en die akkuraatheid van die inhoud van die webtuiste nie.



clearcreative-logo
© Copyright 2017 , All Rights Reserved
Kontak Ons
+264 61 255 985
+264 61 255984
info@kosmos.com.na
verkeer@kosmos.com.na
www.kosmos.com.na