|
Zille sê Zuma medepligtig aan aanhitsing |
|
|
|
|
Vrydag, 12 Maart 2010 |
Die leier van die Demokratiese Alliansie, Helen Zille, sê president Jacob Zuma se weiering om homself van die lied, Skiet die boere, hulle is verkragters, te distansieer, kom daarop neer dat hy die aanhitsing dat mede-Suid-Afrikaners vermoor word, bekragtig.
Sy sê in haar weeklikse nuusbrief sy het aan Zuma geskryf en aan hom uitgewys dat haatspraak ongrondwetlik is en dat sy wil weet wat hy daaromtrent gaan doen. Zille sê ook haar prokureurs het die leier van die ANC Jeugliga, Julius Malema, skriftelik versoek om sy jongste haatspraak terug trek, daarvoor verskoning te vra en te onderneem om nooit weer haatspraak te gebruik nie. Sy sê indien hy weier, sal hy na die Gelykheidshof geneem word. Die Inkhata Vryheidsparty sê die ANC se besluit om Malema te verdedig nadat hy die gewraakte lied gesing het, sal onberekenbare skade aan Suid-Afrika se pogings tot versoening aanrig. Woordvoerder Velphi Ndlovu sê die party is geskok en gewalg dat die ANC besluit het om by Malema te staan, terwyl die Menseregtekommissie reeds dié omstrede slagspreuk as haatspraak verklaar het. Hy sê plaasaanvalle is 'n sensitiewe saak en Malema se optrede dra by tot die siening dat die regering niks daaromtrent doen nie. |