|
DA sê Zuma moet belange verklaar |
|
|
|
|
Maandag, 08 Maart 2010 |
|
Die Demokratiese Alliansie sê president Jacob Zuma behoort sy finansiële belange ter wille van die wet en deursigtigheid te verklaar.
Die DA se parlementêre leier, Athol Trollip, sê volgens wet word daar van Zuma, as president, vereis om sy belange te verklaar. Die feit dat hy dit blykbaar nog nie gedoen het nie, is 'n bewys van die minagting wat die president vir deursigtigheid in die regering het. Trollip se verklaring volg ná 'n berig in die Sunday Independent dat Zuma nog nie sy belange verklaar het nie. Die koerant sê volgens Zuma se woordvoerder, Vincent Magwenya, is dit onduidelik oor of die president dit moet doen. Cosatu het ook geëis dat Zuma al sy belange verklaar. Woordvoerder Patrick Craven sê as dit waar is dat die president byna 'n jaar ná sy inhuldiging nog nie sy belange verklaar het nie, doen Cosatu 'n beroep op hom om dit te doen soos wat die wet vereis. Hy sê dit is die ANC en die alliansie se plig om die leiding te neem en die regte voorbeeld te stel. Die leier van die Onafhanklike Demokrate, Patricia de Lille, sê òf die mense in die president se kantoor is onbevoeg óf Zuma het gehoop niemand kom dit agter nie. |