|
Maandag, 08 Februarie 2010 |
|
Danksy 'n uitstekende boulvertoning deur Dale Steyn ná teetyd, is Suid-Afrika in 'n stewige posisie op dag drie van die eerste toets teen Indië in Nagpur.
Die Indiërs, wat met teetyd 221 vir vier in sy eerste beurt gehad het, was 40 minute later almal terug in die pawiljoen vir 233 lopies. Die laaste ses paaltjies het vir 12 lopies geval. Steyn het sewe paaltjies vir 51 lopies laat kantel en ná teetyd het hy vyf paaltjies vir net drie lopies ingepalm. Virender Sehwag met 109 lopies, Subramaniam Badrinath met 56 en Gautam Gambhir met 12, was die enigste kolwers wat dubbelsyfers kon kry. Indië, wat 'n eerstebeurt-agterstand van 325 lopies gehad het, is deur Graeme Smith versoek om weer die kolf. In die eerste boulbeurt is Gambhir deur Morné Morkel skoongeboul vir een lopie. Met die telling op 24 is die held van die eerste beurt, Sehwag, vir 16 lopies - ook van die boulwerk van Morkel - uitgevang. Die telling in Indië se opvolgbeurt was kort gelede 43 vir twee. Die tuisspan het nog 'n agterstand van 282 lopies. |