|
Zimbabwe onderhandelings wankel |
|
|
|
|
Vrydag, 22 Augustus 2008 |
|
Politieke ontleders sê onderhandelinge oor magsdeling om Zimbabwe se politieke krisis te beëindig, kan in gevaar gestel word indien president Robert Mugabe die nuwe parlement aanstaande week eensydig byeenroep.
Die direkteur van die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika, Ivor Jenkins, sê indien Mugabe daarmee voortgaan, sal dit daarop neerkom dat hy hom magte toe-eien waaroor daar nog nie in die onderhandelinge ooreengekom is nie. Volgens Zimbabwe se parlementêre klerk, Austin Zvoma, gaan die nuut-verkose parlementslede Maandag ingehuldig word en sal Mugabe Dinsdag die parlement formeel open. Die leier van die Beweging vir Demokratiese Verandering in Zimbabwe, Morgan Tsvangirai, het vroeër gesê as die parlement Maandag byeenkom sal dit 'n skending wees van 'n memorandum van verstandhouding tussen sy MDC-party en ZANU-PF. Hy sê dit kan beteken dat Mugabe gaan afsien van die onderhandelings oor magsdeling in die land. |