|
G8 praat hard oor koolstof-vermindering |
|
|
|
|
Dinsdag, 08 Julie 2008 |
|
Wêreldleiers het ooreengekom om ‘n wêreldwye doelwit te stel vir die vermindering van koolstof-vrystelling met minstens 50 persent teen 2050 in ‘n poging om aardverwarming teen te werk.
Die Japanse Premier, Yasuo Fukuda, wat die gasheer van die G8-beraad van nywerheidslande is, het die ooreenkoms vanoggend ná deurnag-samesprekings aangekondig. Die BBC berig verlede jaar se G8-beraad het soortgelyke doelwitte slegs “ernstig oorweeg”. Die leiers het ook ernstige kommer uitgespreek oor die bedreiging wat die stygende olieprys vir die wêreld-ekonomie inhou.Die beraad vind plaas in Toyako, op die Japanse eiland Hokkaido. Leiers van die G8-nasies – Brittanje, Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Rusland en die Verenigde State – word vergesel deur bondgenote uit minstens 15 ander lande insluitend Suid-Afrika.Intussen sê Senegal se President Abdoulaye Wade hy het ‘n beroep op afgevaardigdes by die G8-beraad gedoen om nie sanksies teen Zimbabwe in te stel nie. Wade is een van sewe Afrika-leiers wat na die beraad genooi is waar streng optrede teen President Robert Mugabe bepleit word. Wade sê sanksies gaan geen doel dien nie en ook nie ‘n verandering in regering meebring nie. |